Trans Agulhas Challenge
 
HOME
STAGES
RULES
SPONSORS
GENERAL INFO
DOCS & LINKS
GALLERY
RESULTS
HISTORY
News
STORIES
CONTACT




DOWNLOAD TracTrac


 

Press Releases / Articles

RETURN TO INDEX

Taai stryd kom in Trans Agulhas

PUBLISHED ON 27 DECEMBER 2014
Wimpie Ackermann en Whitey Louw, van die span Imperial Cargo, in aksie gedurende die 2013 Trans Agulhas-uitdaagvaart. Imperial Cargo was die 2013-wenners in die professionele klas.    —    CREDIT: HEINRICH SAUER

Toeskouers van die Transagulhas-uitdaagvaart vir rubberbote kan vanjaar 'n stryd soos min verwag.

Nie minder nie as 30 spanne sal van môre tot 1 Januarie oor meer as 650 km meeding om uiteindelik as Suid-Afrika se rubberboot-kampioene gekroon te word.

Die uitmergelende wedvaart, wat nou in sy 27ste bestaansjaar is, begin in Plettenbergbaai en eindig in die Strand. Die spanne besoek altesaam 20 strande.

Volgens Tjaart Oosthuizen, wat verlede jaar saam met sy spanmaat Dave Barnett in die gemodifiseerde klas koning gekraai het, verwag hulle vanjaar 'n taai stryd.

Hulle berei al presies 'n jaar lank vir die 2014-wedvaart voor.

"Ons verwag veral sterk kompetisie in ons klas, met die jonger ouens wat deurkom. Ons het aan ons boot gewerk om dit vinniger en meer betroubaar te maak, en het self ook harder geoefen om fikser en sterker te wees," het Oosthuizen gistermiddag uit Mosselbaai aan Die Burger gesê.

Die Transagulhas word deur die Agulhas Inflatable Boat Club georganiseer en het vier klasse waarvoor spanne kan inskryf: standaardklas, nuweling-standaardklas, die professionele klas en die gemodifiseerde klas.

Altesaam 13 spanne neem vanjaar vir die eerste keer aan die wedvaart deel.

Luidens 'n verklaring moet die bote daagliks verskeie kontrolepunte bereik, voordat hulle na die eindpunt kan beweeg.

Die wedvaart bestaan uit ses skofte.

Die langste skof is 188,5 km (van Plettenbergbaai na Mosselbaai) en die kortste net 24 km (van Uilkraalsmond na Gansbaai).

Toeskouers word aangemoedig om veral die strande te besoek waar die skofte daagliks begin en eindig om nie enige van die opwinding mis te loop nie.

Stian Cloete, voorsitter van die Agulhas Inflatable Boat Club, het die week luidens 'n verklaring gesê vanjaar se Trans Agulhas-uitdaagvaart mag dalk die laaste een wees.

Die rede blyk 'n gebrek aan titelborge te wees. "Dit sal 'n hartseer dag wees as die wedvaart op die rotse loop."

Volg hierdie skakel om besonderhede van die verskillende skofte te sien.

—  SAMANTHA VAN DEN BERG  (Oorspronklike artikel in Die Burger)

Tags


trans agulhas, uitdaagvaart, stian cloete, agulhas inflatable boat club
VIEWED.  3991 

 

Club Agulhas Klub Trans Agulhas on Facebook
© 2019 TRANS AGULHAS CHALLENGE (TAC)  |  TIGME.COM
spacer